top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 13 Februarie 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (13)

 

Geen verwyte, net vreugde

 

Hand. 20:36-38 – “Nadat Paulus dit gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. 37 Almal het baie gehuil en hom omhels en gesoen. 38 Hulle was veral hartseer omdat hy gesê het dat hulle hom nie weer sou sien nie. Daarna is hulle saam met hom na die skip toe.”

 

Op hierdie geskikte noot eindig Paulus sy bemoediging en vermaning aan die ouderlinge van Efese. Lukas gaan verder en skilder ’n roerende en aanskoulike prentjie wat ’n sterk emosie uitdruk van hulle afskeid van Paulus. Die ouderlinge neem bedroef afskeid van hulle groot apostel in die verwagting dat hy gaan sterf en dat hulle hom nie weer sal sien nie. Hulle vergesel hom daarna tot by die skip vir sy reis na gevangenskap en lyding wat op hom wag in Jerusalem.

 

Paulus word in die kort opsomming van sy boodskap andermaal bekendgestel as die Here se dienende instrument. Soos die Heilige Gees hom lei, volg hy met oorgawe, ten spyte van kwaai teenstand, bedreigings, en die verwagting van lyding wat vir hom voorlê. Daarby is daar ook die diepe verbondenheid aan hom deur die gemeente in Efese, wat saam met hom ly. In ‘n brief wat hy later aan die Efesiërs skryf, besing hy in ‘n gebed die onmeetlike, onbegryplike liefde van Christus wat ek en jy ook mag ken (Ef. 3:14-19). Geen verwyte nie, net vreugde!

 

Onder baie trane en gebed rig Paulus sy voetstappe na Jerusalem, ten spyte van die feit dat hy weet, soos God hom oortuig het, dat dit nie met hom goed sal gaan wanneer hy daar kom nie. Dan dink ek aan die ervaring van Jesus in Getsemane op die vooraand van sy kruisiging, hoewel Jesus nie kon staatmaak op sy dissipels in sy uur van nood nie, het Paulus hier ’n hele klomp ouderlinge wat hom bemoedig.

 

Terwyl Paulus die ouderlinge van Efese toegespreek het, het ek gedink aan Frank Sinatra se trefferlied – I did it my way. In die lied vertel hy hoe hy die lewe op sy eie manier geleef het – soms moeilik, soms hartseer, maar as hy terugkyk, is daar op die ou end geen verwyte nie. Dit kon netsowel Paulus se lied ook gewees het. En dalk my en jou lied. Of dalk sal ons “Ol Blue Eyes” nie kon agterna sing nie. Hoekom nie? Min mense leef die lewe volspoed. Klakouse, verbitterde, ontnugterde, hooplose, Jannie-jammer-mens, en nog vele ander, kan nie ‘n vreugdepad tussen al die hobbelrige, slaggate en paaie vol duwweltjies vind nie.

 

Eintlik behoort dit nie so te wees nie. Daar is tóg ‘n vreugdepad tussen al die ander paaie van die lewe te vind. Dit is God se pad en dis ‘n vreugdepad want dit gaan hemel toe. Ja, en nou sal die klakouse murmureer dat dit eers ééndag in die toekoms is. Toe nie! Daar is geen verskoning hoekom ons gelowiges nie vandág gelukkig kan wees nie. Vir diegene wat die lewe elke dag hard stamp, dan sê die Here: “Ek is by jou om jou wonde te verbind.” Vir diegene wie voel almal en alles is teen hulle, antwoord God dat Hy vir jou is, niks en niemand kan teen jou wees nie. Al lê ons in die spreekwoordelike modder en dit voel almal trap op ons, is ons steeds aan die wenkant – God se kant!

 

Vreugde is baie dinge: heerlike reën ná ‘n kwellende droogte; klein mensie se uitbundige lag; Bokke se vierde wêreldbeker oorwinning; mooi rapport van ‘n kind of kleinkind; heerlike vakansie saam met geliefdes, ens. Maar is dit ware vreugde? Wat is dit? Ek pas gewoonlik die gekoopte goedere op terwyl ek in ‘n winkelsentrum op ‘n bankie die mense gade slaan. Dis verbasend om te sien hoeveel mense so suur is dat hulle gesigspiere skade gaan opdoen as hulle dit ‘n slag gaan waag om te glimlag. Vreugde is om die Here te loof, maak nie saak wat mens se omstandighede is nie. Die Here se soort vreugde is immers nie afhanklik van ons omstandighede nie. Daarom is dit vreugde om vandag voluit te leef. God gee lewe net een dag op ‘n slag weg. Ons kry nie môre of volgende jaar of ééndag se lewe vandag al nie. Gryp dus vandag!

 

Klink maklik né. Toe nie so maklik as ons op ons eie probeer nie. Maar wanneer ons die krag van die Heilige Gees omarm, kan ons kies om vandag voluit te leef. Dan kan ons voluit gaan vir vreugde, God se soort vreugde. Ons kan immers ons geloof uitleef net soos ons kan. Ons kan vandag ons lewe leef met volspoed, sonder verwyte, want ons jaag God se volmaaktheid na. Kom ons sing saam met Frankie – I did it my way – maak dit ‘n vreugdelied; nie ‘n klaaglied nie. Maak dit ‘n loflied wat inval by God se aardse koor wat sy grote Naam elke dag loof. Vreugde is die hartklop van die lewe wat God vir my en jou spesiaal uit liefde, opsygesit het. Kom ons wees bly in die Here (Fil. 4:4), want ons is in Sy greep van genade!

 

“Maak gerus tyd om vreugdevol te leef. Tyd is geen snelweg tussen die wieg en die graf nie, maar ruimte om te parkeer in die son” (Phil Bosmans).

 

Gebed: Here, dankie dat ek mag bly wees. Dankie vir so baie dinge wat my bly maak: die mense wat ek liefhet, die natuur, mooi musiek, die borrelende lag van kleinkinders, vriendskap en dankbaarheid, ag sommer vir alles. Maar veral U, want sonder U kan daar nie werklik vreugde wees nie. Help my om U vreugde met ander te deel, want U is die Bron van my blydskap. Amen.

 

تعليقات


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page