Gedagte vir Vandag
Maandag, 16 Oktober 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (45)
Paulus in Atene (10)
Minder God = minder mens
Hand. 17:30 – “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer...”
Paulus het sy luisteraars goed laat verstaan dat hulle as die geslag van God, nie God kan voorstel uit die kunste of lewelose handgemaakte beelde nie. Menslike kuns kan tog nie ‘n lewenskompas wees nie. Die Ateners moes dus verstaan dat hulle koersloos is sonder God wat die Lewenskompas is. Paulus kon die Ateners nie net so koersloos los nie. Daarom verkondig hy dat ons God, ‘n lankmoedige God is. Hy verkondig aan alle mense, orals, om hulle te bekeer. Hierdie oproep van Paulus op die Areopagus, kan ons as ‘wêreldgerig’ beskou.
Paulus het op die markplein van Atene die opgestane Jesus aan sy luisteraars voorgehou. Daarvoor het die wysgere Paulus na die Areopagus geneem en hier het hy op ‘n meesterlike wyse, die ontsaglike betekenis van Jesus se opstanding aangetoon. Vir die Ateners, wat so trots is op hulle kennis, wysheid, kuns en kultuur, vat Paulus al hulle dwalings met hulle afgode, tempels en kultusse saam onder ‘n verdoemende uitspraak – dit is tye van onkunde. Hulle erken hulle onkunde oor die ware God met hulle altaar aan die onbekende God. Hulle dwaal omdat hulle nie die ware God ken nie!
In Romeine 1 van vers 18 af sê Paulus dat God baie kwaad is vir die mensdom, en nie sonder rede nie. Hoewel God sy ewige krag en goddelikheid van die skepping af in Sy werke duidelik bekendgemaak het, het hulle Hom nie as God vereer of gedank nie. Hulle het die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir beelde van sterflike skepsels – kortom, hulle prakseer hulle eie gode in die plek van die ware God! En die slegte nuus is: Ons is deel van die ‘hulle’.
God laat nie toe dat mense Sy genade vertrap nie. En omdat dit die mensdom se geneigdheid vanaf die skepping is, het God besluit om die mensdom te straf, en dít op ‘n baie verrassende manier – Hy gee mense hulle mondigheid – hulle is nou groot genoeg om hulle eie besluite te neem. Paulus skryf nie minder as drie maal dat God die mensdom oorgee aan hulleself. Hulle het nou hulle eie sleutels van hulle lewe: “Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer” (Rom. 1:24); “Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang” (Rom. 1:26); “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is” (Rom. 1:28).
Omdat die mensdom nie God as God eer nie, het Hy hulle oorgegee aan die drange van hulle hart. God laat die mens los om te doen wat hy wil, om te doen wat hy of sy begeer. Dit is asof God sê: “Julle het gekies om julle eie pad te loop; lóóp dit nou en kyk waar julle pogings om sonder My te leef, julle bring!” Stephan Joubert voeg by: “Mense wat wil leef soos hulle wil, sê wat hulle wil en doen wat hulle wil, kry nou die reg om dit te doen.” Maar o wee, wanneer ons verder lees, is die prentjie wat Paulus teken van hierdie “mondige wêreld”, verdoemend. Dit is ‘n wêreld vol haat, geweld, misdaad, korrupsie, dood en losbandigheid.
Paulus is besig om hier ‘n donker prentjie van die mens te skilder. Die mens wat eintlik geskep is om God te dien en te verheerlik, God se verteenwoordiger, Sy beeld te wees, maar in immoraliteit verval het. ‘n Wêreld wat glad nie in God belangstel nie, is ‘n wêreld wat heeltemal aan sy eie lot oorgelaat is. Dit word ‘n wêreld waar dinge handuit ruk omdat miljoene mense hulle menswaardigheid verloor het.
Miskien het dit tyd geword dat ons hand in eie boesem steek en in die spieël vir onsself kyk. Ek dink dit wys vir ons ‘n duidelike beeld van die haglike omstandighede waarin die wêreldsdinge óns geplaas het. ‘n Mens kan nie in immoraliteit verval nie, ons loop doelbewus met oop oë daarin, dis ons vrye wil. Hierdie aftakelingsproses is ‘n persoonlike keuse en dit is ook nie iets wat toevallig gebeur nie. Iemand het gesê ons is die argitekte van ons eie ondergang! Hoe minder God, hoe minder mens!
Namate God mense aan hulle sondige natuur oorgee, word die sondige verval al erger en word mense se lewe al voller van die verkeerde dinge. Ek dink die magteloosheid van ons as mens kom dan duidelik na vore. Ons kan onsself nie maak wat ons volgens ons eie insig, behoort te wees nie. Die persoonlike verhouding met God moet herstel word. Die afstand wat deur opstand en afdwaling na die wêreld onstaan het moet oorbrug word. En daar is net een oplossing vir hierdie krisis: Onderwerping aan God!
Dit gaan dan gepaard met ‘n daadwerklike handeling: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jak. 4:8-10). God kan met reg sy rug op ons draai. Maar Hy het nie en Hy sal dit ook nie doen nie. Aan Sy ontferming is daar geen einde nie. Ons moet net onthou: God is nie Vader Krismis nie, Hy is Vader God. Ons moet luister as Hy praat!
“The man who banishes God not only loses godliness; he loses manhood too” (William Barclay).
Gebed: Ons Vader, dwing ons tog om te luister. Help ons om hierdie plek waar U ons geplaas het, ‘n mooier, ‘n beter plek te maak. Here, seën ons voornemens en die uitvoer daarvan. U Naam ter eer. Amen.
Comments