top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 16 Augustus 2023

Koos Espach


Die Verblyf in Filippi (5)

In die tronk in Filippi (2)


Die Heilige Gees in Griekeland


Hand. 16:17 – “Die slavin het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: ‘Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste!”


Dit is nodig om kortliks te kyk na hierdie slavin met die gees van waarsegging se verhaal. Wat gebeur hier? Paulus-hulle is besig met die verkondiging van die evangelie in Filippi nadat Paulus in ‘n visioen ‘n Masedoniese man gesien het wat smeek dat hy die mense van Masedonië moet kom help. Maar wat hier gebeur met die slavin wat agter hulle aanloop en uitskreeu dat hulle dienaars van die Allerhoogste God is, het eintlik niks te make met die verkondiging van die evangelie nie. Ook nie met die Masedoniese man nie. Dit is ‘n konfrontasie tussen die slavin se gees wat haar beheer, en die sendelinge, Paulus, Silas, Timoteus en Lukas.


Sy was seker baie bekend in die stad. In my geestesoog sien ek hoe stroom mense na haar sodat sy in die lyne van hulle handpalms, hulle soeke na die toekoms kan voorspel. Ai tog, en dis vandag steeds so. Mense word om die bos gelei deur ‘fortune-tellers.’ Gewoonlik in ‘n donkerige plekkie met kleurvolle gordyne, oral brand kerse, rook wat die vertrek vul, vrou met loshangende hare agter ‘n tafel met ‘n kristalbal en ‘n klomp groot kaarte met bose prentjies op, voor haar. Haar kliënte: Die ongelukkige minnaar of minnares wat meer oor die geheime gang van die liefde wil weet; moeders wat bekommerd is oor hulle kinders se toekoms; watter nommers die lotto gaan wen; wat die sterre voorspel. En baie geld word daar betaal vir die snert wat sy opdis.


Maar ongelukkig vir die slavin van Filippi, was sy die eiendom van gewetenlose mans. Sy het nie ‘n bloue duit daarvan ontvang nie. Vandag is sy egter nie ‘op kantoor’ nie. Sy loop agter Paulus-hulle aan terwyl hulle op pad is bidplek toe. Haar geskreeu lok nuuskieriges nader om te hoor wat die ‘verkondiger van die toekoms’ se boodskap is. Die slegste van alles, die nuuskieriges verstaan en glo haar. ‘n Onreine gees spreek van Apollo, die sogenaamde ligdraer van die heidense wêreld. Haar geskreeu is eintlik dubbelsinnig. Volgens Filippi se mense wat haar ken, verklaar sy nou openlik “hierdie mense, Paulus-hulle, is dienaars van God, die Allerhoogste!” Hulle word aangewys as die manne wat die weg van redding verkondig.


Na ‘n paar dae se blootstelling aan haar geskreeu kon Paulus dit nie meer vat nie en beveel die gees om haar te verlaat. Dit gaan dus nie oor haar bekering nie, maar oor haar geskreeu. Dit gaan ook nie eintlik oor haar nie, maar die waarsêersgees ín haar. Ons wil amper sê: Arme skepsel. Sy word nie net beheer deur die bose nie, sy is eiendom van satan se onreine gees, en op die koop toe, eiendom van gewetenlose manne! Die kontras egter, Paulus en sy mense, wat nou ook Lidia en haar mense insluit, ken maar net een Allerhoogste God, die God wat hulle dien!


Wat leer ons uit hierdie vreemde verhaal van Lukas? Dit vertel ons hoe die Heilige Gees in Griekeland begin werk het om daar die koninkryk van God te vestig. Daarom vind ons in teenstelling hiermee, weerstand uit die geestelike wêreld in die vorm van ‘n waarsêersgees. Baie dae lank is daar deur die satan, deur die slavin in die vorm van die slang python, getuienis gegee van dienaars, van God die Allerhoogste, die weg na saligheid. Eintlik is dit woorde wat waar is en tog mis hulle die innerlike krag, omdat die een Naam weggelaat is. Jesus Christus word nie erken nie.


Daar is geen weg van saligheid, geen weg van redding sonder sy Naam nie! Paulus het dae lank die geskreeu deurgewerk en daarna kort en kragtig die onreine waarsêersgees beveel om uit haar te gaan. Sonder ‘n gegrom het python haar verlaat, weggesluip by die aanhoor van Jesus Christus se Naam. Waar ek en jy as gelowiges beweeg en getuig, kan ons ook teenstand verwag. Die wêreld se geeste hou nie van die Gees van God nie. Daarop moet ons voorbereid wees! As God se kinders is die kragwoord wat ons moet gebruik: “Ek gebied jou in die Naam van Jesus Christus. Hy is die enigste weg, die waarheid en die lewe. Niemand gaan na die Vader behalwe deur Hom nie!” (Joh. 14:6). Dit is in hierdie soort situasies, dat ons bewus sal word van die teenwoordigheid van God. Jesus is die weg, Hy lei ons daarheen! Net Hy!


“Ek glo in die bestaan van die duiwel, vir eers omdat die Bybel so sê; en omdat ek as Christen elke dag met hom moet besigheid doen” (Dwight Moodie).


Gebed: Ek loof U Here Jesus. Dankie dat U my na God se liefdeshart toe lei. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page