Gedagte vir Vandag
Woensdag, 12 Julie 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (54)
Paulus en Barnabas keer na Antiogië in Sirië terug (3)
Deur die genade van God bly Jesus by ons tot aan die einde
Hand. 14:24-26 – “Die apostels het verder deur Pisidië na Pamfilië toe gegaan. 25 Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek. 26 Daarvandaan is hulle met ‘n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het.”
Met gebed en vas het Paulus en Barnabas die gemeentes en die ouderlinge in Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië, in die hande van die opgestane Here oorgegee sodat die gemeentelede en ouderlinge op die Here sal wag om hulle in Sy diens te lei en te gebruik in hulle gebied. Paulus en Barnabas gaan dan langs dieselfde roete terug waarmee hulle gekom het. In Perge het hulle hierdie keer vertoef en die woord van God aan die mense van die stad verkondig. Daarna gaan hulle na die hawestad Attalië waar hulle makliker ’n skip sou kon kry en keer terug na Antiogië in Sirië.
Lukas gee duidelik te kenne dat die eerste sendingreis tot sy einde gekom het met hulle aankoms te Antiogië. Die gemeente van Antiogië in Sirië het Paulus en Barnabas afgevaardig en aan die begin van hulle sendingreis, “aan die genade van God opgedra vir die werk wat hulle nou voltooi het.” Lukas impliseer dat Paulus-hulle die hele sendingreis in die genade van God gebly het en daarom die Heilige Gees se opdrag in (13:2) kon vervul. In vier stede van Klein-Asië: Antiogië in Pisidië, Ikonium, Listra en Derbe, is die evangelie verkondig en gemeentes gestig. Elke gemeente het reeds ’n eie bestuur gehad waarvan die voortbestaan dus verseker was. Hulle het ook ’n begin gemaak met die prediking in die stad Perge.
Treffend dat Lukas weer meld dat Paulus en Barnabas aan die genade van God opgedra is om hulle te bewaar en by te staan. Indirek word gesê dat daar by hulle afvaardiging, die verwagting was dat die werk moeilik sou wees. Menslik gesproke wil ons amper sê dit klink onmoontlik. Hulle moes mense wat vroeër afgode aanbid het, se koppe gaan swaai om in God te glo en aan te hou glo. Behalwe vir hulle eie ongemak, slegte behandeling, selfs steniging, moes hulle die “nuwe” gelowiges aan die een kant versterk en geestelik aanspoor terwyl hulle amper in dieselfde asem, hulle daarop wys dat lyding deel is van die pad van die evangelie – voorwaar, geen maklike taak nie, hulle afgode het hulle immers nie laat ly nie.
Hier op aarde waarborg die Here nie maanskyn en rose vir ons gelowiges nie. En net voor ons mismoedig daaroor raak, herinner Matteus ons aan Jesus se woorde: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20b). Lees dit oor en oor en laat hierdie kort vers die storm in jou onmiddellik stil maak. Sit ‘n bietjie terug en laat die Gees toe om die emosies opsy te stoot en by die waarheid die pas te makeer: Ek en jy is nie alleen in die storm nie. Ons is nie alleen wanneer lyding deel is van die pad van die evangelie nie. Ja, ons is dalk baie kleiner en swakker as die storm, maar daar is Iemand by ons om saam met ons daarteen te veg. Die Een wat elke storm kan stilmaak.
Een van die misteries van ons Christelike geloof wat ons soms verwar, is hoe die lewende Christus terselfdertyd by al Sy dissipels teenwoordig kan wees. Ek en jy moet egter onthou, ons leef volgens beperkings van tyd en plek. Christus werk deur sy Gees wat nie tot ‘n spesifieke plek beperk is of aan tyd gebonde is nie. Hy kan dus by my wees en tegelykertyd by jou, selfs in ‘n ander dorp of land. Indien dit vir ons voel of ons van Christus verwyder is, lê die fout by ons en nie by Hom nie.
Partymaal is ons traag om die eenvoudige waarhede te onthou. Ons vergeet wat Jesus vir ons gedoen het. Ons vergeet van God se oneindige liefde vir ons (Joh. 3:16). Ons vergeet dat dit beslis nie net lippetaal is nie, maar God sy woord by ‘n daad gevoeg het en Sy liefde bewys het aan ’n houtkruis. Ja, daar sal oomblikke wees wanneer ons naby aan Hom voel, maar egter ook tye kom dat Hy nie so ‘n werklikheid vir ons is nie, veral wanneer lyding ons pad kruis. Die feit bly staan dat Christus deur sy Gees, altyd by ons teenwoordig is.
Jesus is elke oomblik by Sy kinders, ons is nooit alleen nie. Ons kan met vrymoedigheid onsself, ons huismense en ander gelowiges aan Jesus se sorg toevertrou. Hy het belowe dat Hy by ons is. Dit was Sy afskeidsgeskenk aan ons. Ek en jy kan met ons hele lewe aan daardie belofte vashou. En op ’n manier maak Jo Black se lirieke juis hier vir my sin: “Die lewe sal jou gooi en jou rondruk. Soms voel dit of jy sink, maar jy moet net jou voete soos Petrus vind. En dalk net weer glo soos ’n kind …”
“Hy alleen is die Een wat nooit tevergeefs gesoek word nie, selfs wanneer ons Hom skynbaar nie kan vind nie, is Hy by ons” (Bernardus van Clairvaux).
Gebed: Dankie Here vir al U besielende beloftes waarop ek kan vertrou en wat my staande hou wanneer dit swaar met my gaan. Ek loof en dank U dat U op hierdie oomblik by my is. Amen.
Comments