Gedagte vir Vandag
Vrydag, 1 April 2022
Koos Espach
Die belofte van die Heilige Gees (3)
Moenie God se koninkryk misloop nie
Hand. 1:6-7 – “Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: ‘Here, is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk vir Israel gaan oprig?’ Hy het hulle geantwoord: ‘Dit is nie vir julle om die tyd of omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.”
Jesus verskyn gedurende die veertig dae ná Sy opstanding, weer aan die apostels terwyl hulle per geleentheid bymekaar was. Hulle vra Jesus of Hy in daardie tyd “die koninkryk vir Israel weer gaan oprig.” Die apostels is beslis nie op dieselfde golflengte as Jesus nie. Dit is byna ondenkbaar dat hulle teen hierdie tyd, nog geen begrip vir die geestelike karakter van die koninkryk gehad het nie.
Hulle wil meer hê as om maar net van die Romeine bevry te word, hulle wil weer ‘n volk word soos in Dawid se tyd, ‘n volk waarmee ander volke rekening moet hou. Volgens hulle sal Jesus ‘n waardige opvolger wees vir Dawid, in ‘n politieke koninkryk wat heers oor die Romeine. Jesus sal inderwaarheid eintlik beter wees. Hy kan immers siekes ook gesond maak en selfs dooies opwek! Met Hom sal hulle ‘n moondheid wees wat onpeilbare hoë hoogtes gaan en kan bereik!
Hulle het steeds gehoop op ‘n aardse nasionale koninkryk. Jesus antwoord op hulle vraag, dat dit nie binne hulle bevoegdheid is om die tye en geleenthede te weet wat die “Vader deur sy eie mag bepaal het nie.” Die Vader het hierdie tye onder Sy beheer geplaas – “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit” (Ef. 1:11). Die Vader alleen stel die toekomstige tye vas en die tyd waarop dit in vervulling gaan. Sy tydskedule is nie dieselfde as ons s’n nie.
Ek en jy moet nie ontsteld raak wanneer ons nie dadelik alles omtrent Jesus verstaan nie. Die dissipels was vir drie jaar bý Hom, het Sy woorde gehoor, Sy wonderwerke gesien, en steeds nie ten volle verstaan nie. Daar was gedurig onsekerheid en vrae in hulle harte. Daarom is dit noodsaaklik dat ons ook nie ongeduldig raak met God se tydrooster nie. In elkeen van ons se harte is daar ook baie vrae omtrent God se koninkryk. Maar ons Here verstaan ons volkome. Hy verwag nie dat ons alles sal verstaan, of wanneer Jesus se beloftes alles sal waar word nie. Nee, Hy verwag net dat ons opreg sal glo en deur ons twyfel heen, sal vashou aan die waarheid van die koninkryk van God wat in Christus Jesus reeds gekom het, en met Sy wederkoms finaal gestalte sal vind.
Die koninkryk van God is hier en nou, tydens my en jou se dag tot dag lewe, omdat die Heilige Gees in ons gelowiges se harte leef. Tog is dit ook in die toekoms, omdat Jesus weer sal kom om te heers oor die volmaakte koninkryk waar daar nie meer sonde sal wees nie. Ek en jy het egter die plig om te sorg dat ons self gered en deur Jesus deel van die koninkryk is, én om ons uiterste te doen om aan Jesus se Groot Opdrag te voldoen. Sy sendingopdrag om na “al die nasies te gaan en die mense sy dissipels te maak” (Matt. 28:19), was om te verseker dat niemand die koninkryk misloop nie.
As lede van die koninkryk, het ons dus die verantwoordelikheid om Sy wil uit te voer en vir ander van Sy liefde en genade te vertel. Dit is nie altyd maklik om te weet wat God se wil is nie. Tog maak Hy sy wil “om die tyd of omstandigheid wat Hy in Sy eie mag bepaal het,” op verskillende maniere deur Sy Woord bekend. Ons moet net luister na Sy stem en gehoorsaam wees aan Sy wil. Kom ons maak die koninkryk van God ons top prioriteit deur Jesus die Koning en Here van ons lewe te maak, en nie maar net nóg een van ons vele belangstellings nie. Hoe gaan ons dit regkry? Deur gedurige kommunikasie met God. Gebed en meditasie van sy Woord is noodsaaklik van ons kant af – “Mag dié God ons toerus met alles wat goed is, sodat ons Sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is” (Heb: 13:21).
“Die lewe is my reis, Jesus is my gids en geloof my wandelstaf op my pelgrimsreis in die tyd en omstandigheid wat God se wil vir my bepaal” (Anoniem).
Gebed: Here, as U my roep tot U diens, hoe sal ek dit mag weier? Jesus, bring in my tot stand wat vir ons Vader aanneemlik is. Maak my gehoorsaam aan die eise van my Christenskap sodat ek “in die tyd wat U mag bepaal,” U getuie in die wêreld waar U my geplaas het, kan wees. Soli Deo Gloria! Aan God al die eer. Amen.
Comments