Gedagte vir Vandag
Maandag, 30 Augustus 2021
Koos Espach
Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (34)
Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke (5)
Raak betrokke
Matt. 25:19 – “Na ‘n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra.”
Vergelyk ook Rom. 12:4-5 – “Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.”
Ons het die afgelope klompie dae gehoor dat Jesus rekenskap van elkeen gaan eis met Sy wederkoms. Ons moet ook waaksaam wees want ons weet nie wanneer dit gaan gebeur nie. Waaksaamheid bestaan nie uit niks doen en wag nie. Die Here het aan Sy kerk gawes en talente, take en geleenthede opgedra en Hy skenk ons die gawes van sy Gees om ons opdragte met nougesetheid uit te voer. Dit beteken om alles in en om ons te proklameer as God se eiendom en gereed te kry vir Sy koms.
Paulus voeg in ons vergelykende teks by hoe elke gelowige sy of haar roeping teenoor ons medegelowiges moet vervul. Elke gemeente is ‘n eenheid waarin daar mense met ‘n verskeidenheid van genadegawes voorkom. Ons moet besef dat God ons in daardie gemeente geplaas het, Hy het ons déúr Sy doel en vír Sy doel geskep: “God het deur (sy Seun) alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: ... Alles is deur Hom en vir Hom geskep” (Kol. 1:16). Die verskillende lede van ons liggaam het verskillende funksies en die liggaam werk net reg as elke lid sy eie funksie góéd verrig. Net so is “ons baie lede in een liggaam, (wat die liggaam van Christus is), en die lede het nie almal dieselfde funksie nie.” Hoe en waar en hoekom, raak ek en jy betrokke in die gemeente waar God ons geplaas het? Waar gaan ek en jy ons vermoëns en gawes aanwend in daardie gemeente?
Wonder jy ook soms wie jy is dat God nou juis vir jou gekies het? Wie is ek dat God my gebruik? Seker die kromste stok wat daar is en tog slaan God ’n reguit hou. As my geloof soms so bietjie aan ’n draadjie hang, dink ek terug aan die kere toe ek ’n verskil in ander mense se lewens gemaak het. Dan weet ek daar moet ’n God wees, want op my eie mors ek net. Toe ek stil word, word ek oorval met die gedagte dat die gawe wat ek van God ontvang het, nie lekker werk as die Heilige Gees nie ook betrek word nie. Dis nie ek wat so goed is nie, maar die Heilige Gees wat deur my werk. Omdat die Heilige Gees werk, het my gawe krag en kan Jesus dit gebruik om mense te verander.
Hoe traag kan ons soms wees om agter te kom ons sit sonder krag – ons is wel ingeprop by die plug, maar ons skakel dit nie aan nie. God gee aan ons elkeen spesifieke gawes volgens Sy goeddunke. Hy voorsien selfs die krag, Sy Heilige Gees. Ons moet Hom net aanskakel, of anders gestel, toelaat om Sy werk deur ons te doen. God verdien dus al die eer wat gegee word wanneer ek en jy ons gawes gebruik om iemand se lewe te verander. Ek dink dit maak God se hart bly as ons hande vat met die Heilige Gees en doen wat Hy vir ons lewe in die oog het.
Ons moenie ons gawes onder die emmer wegsteek nie. Ook nie verskonings uitdink hoekom ons eerder iets anders moet doen as om ons gawes te laat grondvat nie. Ons moenie lui wees om ons gawes te laat werk nie. Moenie die uitstel-verskoning gebruik nie, want ons ken mos die spreekwoord: van uitstel kom afstel. Die volgende kommentaar van Henry op E-Sword is ’n ernstige waarskuwing op ons lewenspad: “The gifts of God will wither if they be neglected.” Ons gawes sal opraak, wegraak, verdwyn as ons dit nie gebruik nie. Dié siening laat ’n mens nogal skrik. As ’n mens nie gereeld jou gawe in aksie stel nie, verloor jy later die kennis hoe om daarmee te werk! Dis nie sommer net so uitgedeel nie. God het dit spesifiek vir ons gegee.
Daarom moet ons die belangrikheid daarvan besef, moeite daarmee maak en die heeltyd op die uitkyk wees vir plekkies waar ek en jy ons gawes kan aanwend. En wanneer die geleentheid opdaag, moet ons dit met albei hande aangryp. Dit is so ’n groot voorreg dat God ons uitgekies het om juis daar op daardie tyd ’n verskil in ander mense se lewens te wil maak. Wanneer ek en jy onsself as lewende offers in liefde aan God gee (Rom. 12:1), sal ons die vervulling daarvan smaak om ‘n medewerker te wees van die liggaam van Christus. God wil nie net ‘n deel van ons lewe hê nie, Hy vra ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag. Hy wil ons volle toewyding hê, nie net brokkies van ons lewe nie en ook nie eers wanneer ons tyd sal maak om dit aan te wend nie. Indien ons dalk ‘n probleem daarmee het, kyk net na Christus waar Hy met uitgestrekte arms aan die kruis hang en sê: “Ek is só lief vir jou! Ek sterf eerder as om sonder jou te leef.”
“Gewillige diens volgens jou vermoë, selfs in die geringste sake en deur die geringste mense, is vir God aanvaarbaar” (Dietrich Bonhoeffer).
Gebed: Vader, wie is ek dat U aan my dink? Wie is ek dat U my hoog genoeg ag? Wie is ek dat U my kan gebruik? Help my om nie verder te twyfel oor my waarde vir U nie. Dankie dat ek waarde het. Dankie dat ek ’n roeping het, ’n plan wat U vir my lewe het. Here, dankie dat U ook ’n gawe of twee aan my toevertrou het. Ek wil ’n goeie rentmeester wees van daardie gawes. Maak my oë oop dat ek kan sien waar U my wil gebruik. Hier is ek, gebruik my. U het my aangestel om hier op aarde ’n verskil te gaan maak. Ek sal gaan. Gee U asseblief net die krag. In Jesus se Naam. Amen.
Commentaires