top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 27 Augustus 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (33)


Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke (4)


Gewillige diens tot eer van God


Matt. 25:28-30 – “Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat tien het. Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”


Ek onthou nog uit my kinderdae hoe dikwels mense hierdie vers aangehaal het, veral wanneer daar na al die rykes van die dorp verwys is. Daar was maklik in die omgangstaal gesê dat die “rykes ryker, en die armes armer sal word. Dit staan mos in die Bybel dat die bietjie wat ons armes het, weggevat sal word en aan die rykes gegee word om nog ryker te word!” En dan het al die aanwesiges instemmend kop geknik en gewonder wanneer hulle karige besittings ook gaan verdwyn in die sakke van die rykes.


Wanneer ons egter die Bybel binne sy konteks lees, weet ons mos dat hierdie teks iets anders beteken as wat die vroom omies en tannies uit ons kinderdae bedoel het. Dit gaan glad nie eers oor besittings of geld nie, maar oor hemelse gawes wat God aan ons elkeen gegee het volgens ons vermoëns. Ek en jy moet ons gawes, wat dit ook al mag wees, aanwend om God se koninkryk uit te bou en om Hom te eer.


Ons leef nou in die genadetyd, die tyd van Jesus se hemelvaart tot Sy wederkoms. Daardie dag van Sy wederkoms, gaan Hy vir my en jou tot verantwoording roep om te verduidelik wat ons met die gawes wat Hy vir ons elkeen gegee het, gedoen het. God wil hê dat Sy koninkryk “winsgewend” moet wees, met ander woorde, Sy kinders moet geestelik groei deur skouer aan die wiel te sit en ons gawes reg aan te wend om Hom te eer.


God het beplan waar ons vir Sy doel sal lewe en het ons nie as ‘n enkeling of individu daar geplaas nie, maar as deel van ‘n liggaam, die kerk – “Uit een mens het Hy al die nasies gemaak ... Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon” (Hand. 17:26). Ons is nie maar toevallig in die gemeente waar ons bly nie, ons is daar deur God geplaas vir Sy doel. Soos ledemate van ‘n liggaam mekaar nodig het om behoorlik te funksioneer en tot volle potensiaal te kom, so is elkeen nodig om God se doel, Sy roeping, in jou gemeente uit te leef.


Ons het ‘n verskeidenheid van genadegawes van God ontvang: “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het” (Rom. 12:6a). Algemene genadegawes word aan alle gelowiges gegee, terwyl individuele gawes van persoon tot persoon verskil. Almal het nou nie al die gawes nie, maar niemand het nie niks nie. Die bron van gawes wat by ons “afgelewer” word, is onuitputlik: “Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee” (1 Kor. 12:4). Die Bybel meld op verskeie plekke van nóg genadegawes en as Skepper-Gees, kan Hy in die een en twintigste eeu, nóg ander gawes bygevoeg het en steeds byvoeg. Betrokkenheid en dienslewering is tasbare maniere waarmee ons “onsself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, kan gee, en so die wesenlike van ons godsdiens beoefen” (Rom. 12:1).


As ons nie dien nie, bestaan ons net, daarom moet ons “elkeen, as goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien” (1 Pet. 4:10). Op daardie laaste dag wanneer Jesus terugkeer aarde toe, gaan Hy van elkeen van ons rekenskap eis. Dan gaan verskonings van selfgesentreerdheid maar hol klink. “Ek was te besig met ...” gaan by Hom die verkeerde antwoord wees. Wanneer Hy elkeen se “dividende” kom uitbetaal, sal dit fenomenaal wees as Hy aan diegene wat hulle gawes reg aangewend het innooi om te “deel in Sy vreugde” (v. 23). Maar vir hulle wat hulle geestelike lewe in ‘n bankrot boedel in bestuur het, wag die ewige oordeel “en word hulle as nuttelose slawe uitgegooi in die diepste duisternis daarbuite, daar waar hulle sal huil en op hulle tande kners.” Kom ek en jy maak seker ons is gereed om deel te wees van diegene wat geestelike dividende sal ontvang.


“In God se vreemde onderstebo waardesisteem kies Hy swak, verwonde, verwese, bang, sukkelende, volgens wêreldse standaarde oneffektiewe, kan-nie-die-mas-opkom-nie-mense en juis met hierdie hopeloos ontoereikende instrumente, doen Hy sy magtige werk op aarde” (Robert Girard).

Gebed: Hemelse Vader, maak my oop vir die werk van die Gees om my gawes te ontdek en tot U eer aan te wend. Ek wy myself aan U diens toe deur die krag van die Heilige Gees, nie om iets terug te ontvang nie, maar omdat ek reeds alles van U af ontvang het. Gees van God, dankie vir die vertroosting wat U my gee dat selfs mý gawes vir God aanneemlik is. Lei my om daardie gawes, alleen maar tot Sy eer te gebruik. Hou my nederig in die gebruik daarvan. “U gee U gawes net soos U wil; almal is diensbaar, elk met verskil. Vul met U Gees my, breekbare kruik, dat U my oral nuttig gebruik” (Lied 528:3). Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page