Gedagte vir Vandag
![](https://static.wixstatic.com/media/73181f_fd966fc263ac4b91959260433cf0b970~mv2.jpg/v1/fill/w_281,h_397,al_c,q_80,enc_auto/73181f_fd966fc263ac4b91959260433cf0b970~mv2.jpg)
Loof die Here uit dankbaarheid!
JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!
(Matt. 5-7)
TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET. (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)
AS JULLE BID (13) – LOOF ONS VADER UIT DANKBAARHEID!
(Luk. 11:2-4)
Matt. 6:9-13 – “So moet julle bid: Ons Vader ... Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.”
Vergelyk ook Op. 5:13b – “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”
Die bekende lofprysing aan die einde van die gebed: “Want aan U behoort die …” (1933/1953-vertaling), ontbreek in ons bronteks van die 1983 vertaling. Ons moet onthou dat die Bybelboeke aan ons oorgelewer is deurdat dit eeue lank met die hand oorgeskryf is. Dit word vertel dat een van die monnike wat hierdie modelgebed van Jesus met sy hand oorgeskryf het, só daardeur aangegryp was dat hy spontaan die lofverheffing gedeelte bygevoeg het. Ons hoef dit egter nie te vermy asof dit ‘n bloot menslike toevoeging is nie. Die Bybel is steeds deur God geïnspireer en daarom kan ons vandag deel in sy aanbidding en ons Vader loof uit dankbaarheid!
Hierdie latere byvoeging van die lofverheffing, leer vir ons dat ons gebede veel meer moet wees as net uiting van ons nood, vrees, kommer en onrus. Die lofprysing leer vir ons dat die gebed ook lofsegging en aanbidding moet wees. Ons besing God se lof vandag en elke dag hierna, nadat ons die afgelope twee weke aan die voete van Jesus gesit en Hy ons geleer het hoe om te bid. As gelowiges het ons die vaste vertroue dat ons Vader die Verhoorder van ons gebede is.
“Aan U behoort die koninkryk …” – God is dié grootmagtige Heerser oor die ganse heelal. Die hemel is Sy troon en die aarde die voetbank van Sy voete. Daar is niks wat buite Sy geskape ryk val nie. Toe Jesaja die Here in ‘n gesig gesien het, het hy uitgeroep: “Met wie kan ons God vergelyk? Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ‘n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ‘n skaal die berge en die heuwels geweeg?” (Jes. 40:12-26).
“Aan U behoort die krag …” – God is dié enigste Bron van mag. Buite God om, bestaan daar nie so iets soos mag nie. (Die mense wat reken hulle is magtig, is selfgerig, nie Godgerig nie). Alle gesagdraers ontvang hulle gesag uit genade van God en dit is slegs gedelegeerde gesag. Hulle moet verantwoording doen aan God vir die wyse waarop hulle hul gesag hanteer en gebruik. Selfs satan staan onder die gesag en mag van God se krag. God gee ook krag aan die kragtelose: “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag” (Jes. 40:30-31).
“Aan U behoort die heerlikheid tot in ewigheid.” – God is in staat om ons gebede te verhoor. Hy is ‘n God met groot heerlikheid. Die heerlikheid van God bestaan van ewigheid af, is steeds daar en sal vir ewig wees. Wanneer ons na die wêreld van vandag kyk met ál sy wanhoop, moedeloosheid, ellendes en sonde, blyk dit of God se heerlikheid nie meer bestaan nie. Maar ons gelowiges weet dat hierdie wêreld verbygaan, en “ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid!” (2 Pet. 3:13, 18b).
Hierdie lofprysing kan ons sien as ‘n belydenis waarin die voorafgaande bedes opgevang en gedra word. Omdat die koninkryk aan Hom behoort, is Hy by magte om sy koninkryk te laat kom. Omdat die krag aan Hom behoort, is Hy in staat om sy wil te laat geskied. Omdat die heerlikheid aan Hom behoort, kan Hy toesien dat sy Naam geheilig word. Daarom is Hy ook in staat om “in elke behoefte van ons ryklik te voorsien volgens Sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus” (Fil. 4:19). Laat ons elke dag as dissipels van Jesus met dankbaarheid getuig dat ons gebedsmense kan wees; mense met ‘n ononderdrukbare drang om, wanneer ons God se genade aanskou, in dankbaarheid voor Hom te kniel en te jubel: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid;” mense wat saam met al die gelowiges deur die eeue heen bely: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”
“Kyk hoe sing die voëltjies van Hom; hoor hoe verkondig die diere Sy sorg; beleef hoe bewe die elemente voor Hom; luister hoe weerklink die klowe van Sy majesteit. Die riviere en stroompies besing Sy lof, en ja, kyk hoe glimlag die gras en blomme oor Sy goedheid!” (Johannes Calvyn).
Gebed: Ons Vader, dankie dat U ons God is wat in staat is om ons van wanhoop te weerhou; wat ons bevry en verlos; wat keer dat ons nie val nie; wat ons oplig uit die dal van hooploosheid en krag gee om nie op te hou om te hoop nie; wat ons uitlei uit die middernag van desperaatheid na ‘n nuwe dagbreek – aan U, God en Seun en Heilige Gees, kom toe die eer en die mag, die heerlikheid en krag, vir ewig en ewig. Amen.