Gedagte vir Vandag
JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!
(Matt. 5-7)
TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)
AS JULLE BID (1) – BID REG!
(Luk. 11:2-4)
Matt. 6:5 – “Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.”
Die tweede van drie voorbeelde wat Jesus voorhou om hierdie lewe van geregtigheid te beoefen, handel oor gebed. Dié gedeelte is dan ook veel langer as die ander twee gedeeltes wat handel oor liefdadigheid (armsorg) en om te vas. Jesus gee aan ons ‘n spesifieke gebed as die volmaakte gebed, en daarom kan dit ook gesien word as die kern van Sy Bergpreek. Vergun ons dan om meer tyd aan hierdie ontsettende belangrike gedeelte wat op elke gelowige van toepassing is, te spandeer.
Gebed is die belangrikste en intieme kommunikasiemiddel tussen God en ons, daarom bid ons. Gebed is noodsaaklik en is beslis nié omdat ons van kleins af geleer het om te bid of omdat ons as gelowiges, moét bid nie, dit is omdat jy jou diepste behoeftes met God wil deel! Gebed is ook die enigste direkte verbindingslyn tussen God en ons, en maak nie saak waar jy jou op ‘n gegewe oomblik bevind nie, die paar woorde wat jy uit jou hart prewel wat aan God gerig word, eindig onmiddellik in die “beheersentrum” van God se troonsaal! En glo my, ek het nog nooit met ons Vader se sekretaresse gepraat, of ‘n besettoon, of “voicemessage”, of verwysing na ‘n ander “persoon of departement” ondervind nie. Ek kon elke keer direk met God praat en met respek, Hy verstaan Afrikaans! En die kersie op die koek: Ek het nog nooit ‘n rekening van die hemel af ontvang vir ál die “oproepe” wat ek al soontoe gemaak het nie, dis gratis!!
Net soos in die geval van liefdadigheid en vas, waarsku Jesus ons hier teen vroomheidsvertoon wanneer ons bid. Tydens die vaste gebedstye van die Jode destyds (Hand. 3:1), kon hulle behalwe in die tempel, ook “in die sinagoges en op die straathoeke” bid. Die Jode het drie keer per dag, sekere tye afgesonder om te bid. Maak nie saak waar hulle hul bevind het nie, op daardie spesifieke tye het hulle gestop, met uitgestrekte arms na bo gerig, hoof geboë en gebid dat almal om hulle kon sien en hoor. God was beperk tot hulle tye. Gebedsvoorskrifte was aan die orde van die dag as deel van hulle tempeldiens. Ongelukkig het dit algaande ‘n wettiese voorskriftelike handeling geword in plaas van ‘n innige persoonlike gemeenskap met God.
Jesus kom stel die orde reg. Hy verbied nie openbare gebed nie, is ook nie teen lang gebede of gebede in die openbaar nie (Jesus self het ‘n hele nag in gebed deurgebring [Luk. 6:12]), Hy waarsku teen gebede wat gebid word om ander mense te beïndruk. Hy kyk, luister en weet wat die motief van die gebed is en as dit bedoel is om God te probeer oorreed, of Sy arm te probeer draai om die gebed te verhoor, het “hulle hulle beloning klaar weg.”
Christen-wees is ‘n liefdesverhouding. Wanneer ‘n sondaar gered word, kom hy in ‘n liefdesverhouding met God te staan. Hy is die Bruidegom en ons, Sy kerk, is Sy bruid (Op. 19). ‘n Liefdesverhouding kwyn egter as die paartjie versuim om afsprake met mekaar te maak en na te kom. Waaraan meet God ons liefde? Onder andere aan ons gretigheid om met Hom alleen te wees. As Hy dus vergeefs op my wag omdat ek nie my afspraak met Hom nakom nie, gaan dit vanselfsprekend ‘n nadelige uitwerking hê en gaan ons liefdesverhouding kwyn.
Daarom is gebed nie ‘n formaliteit nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen ons en God. Wanneer ek dan bid, dink ek nie méér aan die mense om my wat my gebed hoor nie, maar aan God! Ek is met ander woorde nie ‘n toeskouer van my eie opvoering nie. Ek bid ook nie méér dikwels en vuriger wanneer ek in ‘n gehoor is nie, maar wanneer ek alleen is met God! Ek neem my gebed na God toe en nie na mense toe nie! Ek beperk ook nie God tot ‘n sekere tyd op Sondae (Hand. 3:1) asof die GOD VAN HEMEL EN AARDE net dáár is en ook net op dáárdie tyd is nie. My motief wanneer ek bid gaan oor God en oor my en vir almal vir wie ek bid. Indien my gebede nie Godgerig is nie maar selfgerig, dan “het ek my beloning klaar weg.”
“Gebed is nie ‘n manier om van God gebruik te maak nie; dit is ‘n manier om onsself aan God te gee sodat Hy óns kan gebruik. Indien ons van haastigheid by God verbyhardloop, sal ons Hom beswaarlik deur die dag inhaal” (William Barclay).
Gebed: Ons Vader in die hemel, en ook hier op die aarde. U wag om van my te hoor en ek het soms so baie om te sê, veral wanneer dit by vraetyd kom. Ek konsentreer so op my eie behoeftes en het nie altyd tyd om na U te luister nie. En ja, soos U weet, ek het ook nie altyd tyd om met U te praat nie, te besig met my eie dinge en ... Ag! Verskoon tog Here, ek moet alweer gaan, ons praat weer later. Amen.