E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DOOD VIR DIE SONDE, MAAR LEWEND VIR GOD (1) – SAAM MET HOM
Rom. 6:1-6 – “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.”
Vergelyk ook Gal. 2:19b-20 – “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”
Paulus gebruik weer die vraag: “Wat sal ons dan sê?”, by die aanvang van ‘n nuwe deel van sy argument. In Rom. 5:20 het hy die stelling gemaak dat, hoe meer die sonde word, hoe oorvloediger het die genade geword. Beteken dit dat ons Christene maar lustig kan sondig “sodat die genade kan toeneem?” Vernietig hierdie siening nie dalk ons verantwoordelikheid om van die sonde af te ontvlug nie? Gevolglik is daar mense wat wil glo dat God meer geëer sal word wanneer hulle in die sonde volhard, want dan sal Sy genade in die verlossing des te beter skitter. ’n Mens kan dus maar goddeloos lewe want die sonde laat God se genade net meer word; God is mos ‘n God van liefde, Sy genade is oorvloedig, daarom kan die mens sonde maar ligtelik opneem.
Omdat Paulus dié vraag verwag het, wys hy dit af met ‘n besliste nee en motiveer hy sy afwysing deur ’n aantal teenvrae wat moet toon hoe dwaas so ’n vraag is. Sonde maak ‘n mens dood, selfs al haal ons nog asem. Sonde is nie maar net ‘n paar foutjies in ‘n mens se lewe nie, dit is ‘n mag wat jou beetkry en jou in sy greep vasklem. Dit neem jou gedagtes oor en rig jou optrede – “ ... ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood” (Jak. 1:14-15). Sonde verander ons in lewende dooies, al klop ons harte nog, dit verander ons lewe in ‘n reuse begraafplaas.
Die goeie nuus is dat God ons nie sommerso in die begraafplaas van sonde laat verrot nie, Hy het sy Seun gestuur om Sy houtkruis hier tussen ons sondaars op te slaan, sodat “almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is.” Mense wat in Christus gesterf het, kan eenvoudig nie meer in die sonde bly nie (Gal. 2:19b-20). Ons is in Christus se dood, ingedoop. Die doop is die uiterlike handeling waarmee ons ingelyf word in Christus se dood; dit is ‘n teken en ‘n seël van die reiniging van ons sondes deur Christus se dood.
Paulus lei daaruit af dat die dopeling dus die sonde afgesterf het, dat die gedoopte vir die sonde dood is. Dit is so ’n finale werklikheid, dat hy kan sê die “gedoopte is immers saam met Hom in sy dood begrawe.” Die begrafnis is die seël op die dood en spreek nog sterker as die sterwensuur van die onherroeplikheid van die dood. Paulus wil beklemtoon dat die gedoopte absoluut vry is van die sonde. Ons is klaar “saam met Jesus” aan die kruis gespyker, ons het klaar “saam met Hom” gesterf, ons is klaar “saam met Hom” begrawe, daarom sal ons “saam met Hom” opstaan en lewe.
“Saam met Hom,” dit is die sleutelwoorde wat Paulus hier gebruik, maar wat beteken dit? Is dit 'n soort van simboliese eenheid, 'n mistieke eenheid? Dit is moeilik om dit rasioneel, met die menseverstand te beskryf. Met Christus se dood en Sy opstanding, tree ons na vore in 'n nuwe gewaad, as nuwe mense, beklee met Christus. Ons is nuut, en lewe nou nuut, dood vir die sonde maar lewend vir God. Begin elke dag om vir jouself te sê: “Ek is ‘n nuwe mens, die ou mens is saam met Christus gekruisig. Ek besit Goddelike krag om nee te sê vir die werke van die vlees.”
Dankie Paulus, dit klink alles goed en kan die waarheid wees, maar ek sien dit dan nie in my eie lewe nie! Ek het al so dikwels die ou mens saam met die sonde probeer begrawe, maar hy staan elke keer maar weer op. Ek het hom in ‘n graf gesit, en toegegooi, maar telkens beur hy weer boontoe, hy wil net nie dood bly nie. Die mens is verantwoordelik vir sy eie sondeval. Die broeiplek vir die sonde het sy oorsprong by onsself: “Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep” (Jak. 1:14). Die moeder van alle sondes byvoorbeeld: “Jy mag nie begeer nie,” het sy oorsprong by ‘n meesterbrein: Onsself!
Begeerte is ‘n persoonlike mag wat ons in ‘n greep kry en “saamsleep.” Dan word die begeerte soos ‘n saadjie bevrug en word die “vrug”, (sonde), voortgebring – dit wat ons hart begeer, word deur ons sintuie waargeneem en dan volg die liggaamlike kontak. Die saadjie het ‘n vrug voortgebring en uiteindelik raak die vrug vrot ... en terwyl ons smaaklik daaraan eet, sterf ons geleidelik totdat die dood finaal intree. Die vraag is dan: Kon God sy Seun na die wêreld stuur en ons sterf saam met Hom en staan saam met Hom op, en dan voortleef of dit alles net eenvoudig nie gebeur het nie? Dit is dan nodig om weer by Christus se graf te gaan staan en as ons mooi kyk, sal ons sien dit is leeg. Jesus leef, en baie ander saam met hom.
“God het een Seun sonder sonde; maar Hy het geen seun wat nie versoek word nie”
(Charles Spurgeon).
Gebed: Hemel Vader, dankie dat U genade, dooie mense wat die lewe in die begraafplaas van die sonde en dood deurgebring het, lewend maak. Begrawe my in die graf waarin ek reeds begrawe is en laat my daaruit opstaan waaruit ek reeds opgestaan het. Verhoed, Here, dat ek leef asof die evangelie nie waar is nie, asof U nie geleef, gesterf en opgestaan het nie. Verlos my van die bose mag van die sonde en laat ek U adres daar agterlaat, want satan is geneig om weer ‘n besoek af te lê. By U is hy egter nie welkom nie en dáár sal hy my met rus laat. Amen.