top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!


JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 19) – VOLKOME OORWINNING IN CHRISTUS!


Joh. 16:30b en 33b – “Sy dissipels sê toe: ‘Ons glo nou dat U van God gekom het.’ Daarop sê Jesus vir hulle: ‘In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”


Vergelyk ook 1 Joh. 4:8-9 – “God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: Sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.”


Dat ons gelowiges “in die wêreld dit moeilik sal hê”, is ongelukkig ‘n feit wat ons moet erken. Vervolging en verdrukking sal deel wees van elke Christen omdat die wêreld in vyandskap teen Christus en Sy eiendom verkeer. Maar tog is die oorwinning verseker, dit is ’n voldonge feit: “Ek het die wêreld klaar oorwin!” sê Jesus, en met daardie woorde van triomf sluit Hy sy gesprek met die dissipels af, en gaan Hy as oorwinnaar die kruis tegemoet.


Jesus se menswees verskil só drasties van ons. Hy is op Sy lydensweg na die grusame lyding van die kruis, maar steeds gee Hy om vir Sy volgelinge. Soos die dissipels “glo ons dat Jesus van God gekom het.” Hy ken ons swakhede, maar Hy bly steeds lief vir ons en vertrou ons steeds. Wanneer jy ontdek hoe lief God jou het, kom die vertroue en die sekerheid en die toekomshoop byna vanself. As jy die liefde van God vir jou, persoonlik ontdek, ontdek jy jou eie waarde en die negatiewe gevoelens en bekommernisse word vervang met God se ewigheidswaardes. Die ontdekking van hierdie liefde is die ruimte waarbinne ons Jesus kan glo vir wat Hy sê. Selfs al ondervind ons baie teenstand in die wêreld as gevolg van ons geloof, blý Hý getrou. Die dinge wat soms alle geloof uit ons wil uitwurg, is alreeds deur Christus oorwin.


Ons hoef nie buite Jesus te soek na verlossing nie. Fisiese mag, reputasie, prestasie, invloedryke posisie en vriende, rykdom en selfs aktiewe kerklike bedrywighede, kán ons nie verlos nie, net Jesus Christus alleen kan. Ons is te geneig om te soek na ‘n Christus-plus-godsdiens wat mens soms magteloos maak dat jy later begin glo dat jy iets ekstra nog moet doen om verlos te word. Dit is om die trou van God en die realiteit van wat op die kruis eens-en-vir-altyd gebeur het, tot niet te maak. God het self gesê dat sy Seun se Naam Verlosser is en ons kan dit maar glo dat Hy, en net Hy, ‘n mens van sy sondes kan verlos: “Maria sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). Daar is nie nog ‘n ander Verlosser nie: “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as losprys vir almal gegee het.” (1 Tim. 2:5-6).


Ons is so geneig om maklik handdoek in te gooi en moedeloos te raak. Ons word só maklik oorweldig deur die donker wolke van beproewing en verwarrende omstandighede dat ons vergeet dat die “Lig van die lewe” gesê het: “Hou moed, Ek het die wêreld klaar oorwin.” Jesus is groter as die ellende en lyding wat ons moet verduur. Hy wil vir ons sê dat Sy lig steeds skyn, selfs in die donkerste plekke of tye. Ons moet nie moed verloor nie! Ons moet ons lewensblydskap en ons wil om vorentoe te gaan, bly behou. Ons het ’n groot verantwoordelikheid om standvastig te bly in die geloof!


Negatiewe dinge mag ons nie ontmoedig om geestelik moeg te word en laat uitsak nie (Heb. 12:3b)!!!! Met ons toekoms kan niks anders gebeur as wat die Here vir ons beplan het nie. Ons kry by die Here genade vir alles – van sterwensgenade tot opstandingsgenade. Ons moet ons lewe inrig met die kennis van, en vertroue in, hierdie oorwinning en teenwoordigheid van Christus. Christus het belowe dat Hy ons self in daardie dae sal bewaar: “Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Op. 3:10). Ons hoef dus nie Jesus se vermoë om dit te doen, te betwyfel nie. Hy het reeds bewys dat Hy die dood oorwin het en die lewe beheers. Hou moed, “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal wit klere dra omdat jy dit waardig is. Ek sal nooit jou naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat jy aan My behoort” (Op. 3:5).


“Ek gee krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed” (Jer. 31:25).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat u geen ander Naam op die aarde gegee het waardeur U wil hê ons gered moet word nie, behalwe Jesus Christus! Dankie Jesus dat U my spesifiek ken. Al gaan ek gebuk deur my kwota foute, uitdagings en beproewings, ken U elke droom, elke begeerte, elke greintjie hoop, elke omstandigheid en daarom kan ek met vrymoedigheid bely “dat U van God gekom het” en ek het U nodig! Onderwerp my aan U liefde en vul my met U vreugde. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page