E-Kerk - Gedagte vir Vandag
DIE EVANGELIE VAN JOHANNES
DIE VERMEERDERING VAN DIE BROOD (2) – DIE VOORSIENER. (Matt. 14:13-21; Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17)
Joh. 6:8-11 – “’n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: ’Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?’ Toe sê Jesus: ‘Laat die mense gaan sit.’ Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.
Vergelyk ook Mark. 6:39 en 41 – “Hy het sy dissipels opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet. Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel.”
Jesus se gesprek met Filippus was ten aanhore van die ander dissipels. Andreas, die broer van Petrus, kom na vore en bring ‘n seuntjie met vyf gars broodjies en twee vissies, na Jesus. Opmerklik is die feit dat Andreas vir Petrus ook na Jesus toe gebring het met die woorde: “Ons het die Messias gekry” (Joh 1:41b), maar nou twyfel hy in die vermoë van die Messias. Hy beklemtoon die hopeloosheid van die situasie vanuit sy menslike oortuiging: hier is “vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” Die vissies is nie eers genoeg om as vissmeer vir die vyf broodjies te dien nie, en een brood vir elke duisend mans!!! Wat van die vrouens en kinders? Dus, Andreas vind kos vir twee mense, en hy staan verleë, want hoe sou die duisende daarmee gevoed kan word?
Jesus het egter ‘n plan vir die hongeriges. Wanneer jy tot die besef gebring is dat geen mens jou uit jou nood kan help nie, tree Jesus in om te red. Hier waar mense sonder voedsel gevoed moet word, tree Jesus as gasheer op. Hy beveel dat die mense moet gaan sit en gereed moet maak om te eet. Hierdie groot getal mense skep vir Jesus geen verleentheid nie. Hy neem die brood om brood uit brood voort te bring. Eers doen Hy die gebed voor die maaltyd, soos dit gebruiklik was (en vandag nog moet wees), en Hy dank God vir voedsel wat in daardie stadium nog maar vyf broodjies en twee vissies was, ver te min, maar nietemin ’n gawe van God.
Die dissipels moet die uitdeelwerk doen (Luk 9:16b), want die wonderteken is nie vir die skare bedoel nie, maar vir húlle. Húlle moet die openbaring van God se heerlikheid aanskou! En wat doen hulle? Hulle gehoorsaam. Hulle kan glad nie verstaan wat aangaan nie, maar hulle gehoorsaam. Hulle geloofsvertroue het gefaal, maar nie hulle gehoorsaamheid nie. En juis die gehoorsaamheid, bou die geloofsvertroue op!
Genoeg brood is “aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê, gegee.” As Jesus dit vir ’n skare gedoen het wat Hom waarskynlik gevolg het om nog meer wondertekens te sien, hoeveel te meer sal Hy dit nie ook vir ons doen, wat sy kinders is, en wat vandag in afhanklikheid van Hom lewe nie? Daarmee illustreer Jesus dat Hy omgee vir ons worsteling met die gewone krisisse van elke dag.
As Christene voel ons soms so nietig en ontoereikend. Jy is bewus van jou geringheid van jou offer en daarom volg gewoonlik ‘n magdom redes hoekom jy nie ‘n dienskneg in Sy koninkryk kan wees nie. Andreas het miskien net die een talent gehad om mense na Jesus te lei, maar daardie een talent het aanleiding gegee dat duisende gevoed kon word. Daar is werk vir almal in Sy koninkryk en niemand hoef oorbodig te voel omdat hy/sy nie besondere gawes of vermoëns het nie. Die alvermoënde Christus kan wonderwerke verrig met die nederigste dissipel. Jy moet net “LEEF MET ‘n CHRISTUSHART” en jou gesindheid word verander. Jou hande moet uitgestrek wees in diens aan ander, dan is daar geen perke aan wat God deur jou as toegewyde en gehoorsame instrument kan doen nie. Jesus kan baie doen met min!
“Dit is nie groot mense wat groot dinge doen nie; dit is slegs toegewyde mense"
(Phillip Brooks).
Gebed: Verlosser en Saligmaker, God van geleenthede, soms voel dit vir my of U my te veel daarvan gee. Ek voel soms so nietig en ontoereikend en dan vloei die verskonings van te veel werk, tyd maak vir my gesin, sosiale verpligtinge nakom en so nou en dan ontspan ook, oor my lippe. Laaste op my besigheidslysie is die kerk. Ek het net nie genoeg tyd en energie oor om nog die dinge wat U Evangelie van my vra, óók nog te doen nie. Here, vergewe my; verander my hart in ‘n Christushart; alles wat ek is en het kom van U – gebruik my soos en waar U wil. Amen.