E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Vaderliefde par Excellence (5)
Luk 15:11; 25-32 – Verder het Jesus gesê: ”Daar was ‘n man wat twee seuns gehad het.....; VV 25-32 – “Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery....”
Vergelyk ook Matt 21:31 – “Toe sê Jesus vir hulle: ‘Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in.”
Wat het intussen van die oudste seun geword? Waarom het hy nie sy vader teen die jongste seun beskerm deur hom attent te maak op sy verkeerde keuse nie? Miskien kort daar nog ‘n versie wat lees: “En die oudste seun het die jongste berispe omdat hy hul vader onteer het.” Hy kon nie want hy het self nie sy vader geëer nie.
“Die oudste seun was in die veld en toe hy terugkom, hoor hy” die klanke van die feesviering. Die gesindheid teenoor sy vader blyk reeds van broeiende woede te wees as hy nie self wil gaan kyk wat gaande is nie, maar op ’n afstand bly staan en ’n bediende nader roep om te hoor wat dit is. In die antwoord van die bediende staan twee woorde voorop: u broer en u pa - "U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het" (v 27). Hierdie uitdrukkings behoort die oudste seun aan sy liefdesplig te herinner het en in liefde, sy vader se vreugde gedeel het. Hy weier egter om sy broer te erken, en kom in opstand teen sy pa. Hy meen dat die reg aan sy kant is en hy begin sy storie van eiegeregtigheid te vorm.
Hy besluit om nie deel van hierdie partytjie te wees nie. Hy forseer die pa om die gaste te los en uit te stap en met hom te kom praat. En dan is hy intens ongeskik met sy pa. Sy woede is nie teen die jonger boet gerig nie, maar teen die pa. Hy spreek nie sy pa ordentlik aan nie. Hy vaar uit oor hoe hard hy werk vir sy pa. Oor hoe hy al die opdragte van sy pa nakom. En hy het nog nie eers 'n bok gekry om te slag saam met sy vriende nie. “Nou kom hierdie ander seun van pa en kry die vetgemaakte kalf!” Hy is só kwaad dat hy nie eers sy broer se naam kan noem nie. Hy erken hom ook nie as sy broer nie maar eerder as sy pa se seun.
Met kalme waardigheid en sonder om sy humeur te verloor, tree die vader met liefde op. In 'n gees van begrype en verwyte bespreek hy die saak met sy seun. Niks wat onherroeplike verwydering kan veroorsaak, wil hy sê of doen nie. Hy pleit by die oudste om “tog vrolik en bly te wees, want hierdie broer van jou was dood.....” Hy is die eie seun en die enigste broer. Maar die oudste broer wil die fees nie anders verstaan as 'n misplaaste huldiging, van 'n iemand wat hy weier om "broer" te noem nie. Gevolglik bring hy sekere besware na vore teen sy vader en sy broer.
Vervreemding, liefdeloosheid en ondankbaarheid spreek uit die oudste se woorde. Al het hy nooit die ouerhuis verlaat nie, was hy in sy hart 'n vreemdeling. Sy blydskap het hy nie in die nabyheid van sy vader gevind nie, en die bedoelings van sy vader kon hy nie begryp nie. Om hom daartoe te beweeg om die wet van die liefde te gehoorsaam, spreek die vader hom aan: "Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joune." As kinders van ons hemelse Vader, word ons as broers en susters, mede-eienaars van God se genade. Alles wat Syne is, is ons s'n ook, want ons is altyd by Hom! Aan hierdie feit kan geen omstandighede hoegenaamd iets verander nie.
Elkeen wat weier om bly te wees oor die behoud van 'n sondaar, tree op as 'n veroordelende huigelaar. Die mense wat handel soos die oudste seun is die Fariseërs en skrifgeleerdes wat Jesus kwalik neem dat Hy met tollenaars en sondaars (die jongste seun in die gelykenis) aan tafel gaan. Dit is juis hulle vir wie Jesus wil oproep tot deelname aan die vreugde oor die redding van die sondaars (15:1-2). Hulle kan daarop roem dat hulle steeds die gebooie onderhou en nooit die diens van die Here verlaat het nie, maar verdoemend is die feit dat hulle niks met die sondaars wil deel nie. Aan hulle wil Jesus dit nou duidelik stel dat die geredde sondaar seun is van dieselfde Vader en daarom hul broer. Die wet van die liefde moet hier die hoogste woord spreek, anders word die woord van Matt 21:31 (hierbo) bewaarheid.
“God het ons lief net soos ons is, maar Hy het ons te lief om ons só te laat bly” (Leighton Ford).
Gebed: Hemelse Vader, wie kan van so ‘n Vader af wegbly? Maak nie saak wie en wat ons is nie, weet ons dat U het ons liefhet en intens belangstel in ons as U kinders. Dankie dat U altyd beskikbaar is – dankie dat U by ons woon. Amen.