E-Kerk - Gedagte vir Vandag
Gevaarpunt 4 : Diskriminasie (4)
Jak 2:12-13 –“ Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.”
Vergelyk ook 1 Joh 3:18 – “Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.”
Jakobus verander sy verduideliking van die vorige verse hier na ‘n vermaning. Om te “praat en op te tree” (doen) is ‘n samevatting van ons optrede teenoor God en ons naaste. Liefde word onder andere, in barmhartigheid geopenbaar. Hy is duidelik daaroor dat God se oordeel genadeloos is oor wie nie deernis betoon nie: “die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie,” maar dan voltooi hy dit met ‘n belofte dat “barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.”
Die funksie van die wet is egter deur Jesus opnuut geïnterpreteer. Ons sou in die oordeel van God veroordeel moes word maar deur die genade van God het Christus die essensie van die wil van God daarin gesoek en dit self vervul, terwyl Hy ook die oortredinge van ons op Hom geneem het in Sy kruisdood. Wie Christus se verdienste aanvaar, ondervind die wet nie meer as ’n oormagtige vyand of neerdrukkend of selfs beperkend nie, maar as die wegwyser, die padkaart wat ons help om die lewe met vreugde te kan geniet. Dit word dan “die wet wat vry maak,” vir ’n bevryde lewe.
Wie dié wet as ‘n wegwyser moedswillig verontagsaam, moet egter weet dat dit ’n blywende maatstaf is waaraan sy lewe in die eindoordeel beoordeel sal word. Dit sal aan die lig bring of hy werklik vrygemaak is en of hy begryp het wat daardie vryheid behels: “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het , of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor 5:10).
Ons kan die wet nie volkome en in alle opsigte uitvoer nie. Maar ons kán barmhartigheid betoon. Wie werklik sy naaste liefhet soos homself, doen inderdaad die goeie (v 8). Teenoor so ’n barmhartige mens tree God self ook met barmhartigheid op, selfs in die eindoordeel. Die oordeel gaan oor die wet, die wegwyser wat ons lewensruimte wil gee maar dan moet ons besef dat dieselfde wegwyser ons naaste ook lewensruimte wil gee.
“Doen soveel goed jy kan. Op soveel maniere as wat jy kan. Op soveel plekke as wat jy kan. Aan soveel mense soos jy kan. So dikwels as wat jy kan. En so lank as wat jy kan” (John Wesley).
Gebed: Here, barmhartigheid is so ’n magtige element in U huishouding dat dit selfs “die oordeel” te bowe kom en daaroor “triomfeer.” Skep asseblief vir ons daardie gesindheid om nie onbarmhartig te wees of selfs om kwetsend en vernederend ander te behandel nie. Betoon ons dieselfde barmhartigheid wat U aan die moordenaar langs U aan die kruis betoon het en skenk ons die krag om dieselfde barmhartigheidstaal te “praat en op te tree, in opregtheid.” Amen.